PRINSLOO J.P.N. 1863-1902
Joachim Prinsloo (gebore op 31 Oktober 1864) het vóór die oorlog op die familieplaas Rietfontein naby Delmas geboer. Toe die oorlog uitbreek, is hy saam met sy kommando na Natal waar hy as gewone burger in die groot veldslae aan die Natalse front geveg het. In die slag by Donkerhoek, oos van Pretoria, op 11 en 12 Junie 1900, enkele dae nadat die Britte die stad ingeneem het, was hy nog steeds 'n gewone burger. Toe hy daarna agtereenvolgens tot veldkornet en kommandant bevorder is, het hy gou die oog gevang as 'n offisier van besondere kaliber. In die bloedige slag by Bosmanskop het Prinsloo sy kommando skitterend aangevoer en sy teenstanders, die 2nd Dragoon Guards (Queen's Bays), ten slotte op die vlug gejaag. Die Britte se ongevalle was: 2 offisiere en 20 manskappe gesneuwel, 4 offisiere en 57 manskappe gewond en 3 vermis. Aan Boerekant het Prinsloo en ses burgers gesneuwel. Die getal Boere-gewondes kon nie vasgestel word nie. Ná die slag is die Britse gesneuweldes op Bosmanskop begrawe. Hulle is in 1964 deur die Suid-Afrikaanse Oorlogsgrafteraad in die begraafplaas op Germiston herbegrawe. Die gedenkteken wat die Queen's Bays vir hul gesneuwelde makkers op Bosmanskop opgerig het, is ook na Germiston verplaas. Prinsloo en sy ses burgers is op Rietfontein begrawe. Die Raad vir Oorlogsgrafte het hulle in 1973 in die begraafplaas op Bethal herbegrawe. Daar staan 'n indrukwekkende monument vir hulle en vir ander Boere wat in die omgewing gesneuwel het. (Bron: http://www.onsboeresetrotsegeskiedenis.co.za/new-page-319.htm
contributed by: Johan Jacobs
viewed 91 times