Gauteng, PRETORIA district, Rural (farm cemeteries) / Gauteng, PRETORIA district, Vissershoek 435_1, farm cemetery / 5. Moontlike Britse soldate / Possibly British soldiers / (1 of 14 images)
Daar is ‘n gedeelte agter in die berg met die naam: Schietkraal. Ons familie se grond is deel van hierdie oorspronklike plaas en word vandag nog Schietkraal genoem. Dit is geleë wes van waar Die Hoekie vandag is. Hierdie plaas het sy naam te danke aan ‘n skermutseling wat hier plaasgevind het tussen Boere en Britse magte. Hierdie insident was nie aangeteken as ‘n ‘Slag’ van die oorlog nie, omdat dit blykbaar net as ‘n ‘skermutseling’ gesien was. Die Boere het blykbaar ‘n hinderlaag gelê vir die Britte. Die vertelling wil dit hê dat ‘n Skot vooraan die Britse opmars geloop het en op sy doedelsak gespeel het. Dit was daardie tyd militêre beleid dat ‘n mens nie na hierdie doedelsak spelers vuur nie, bloot omdat hul nie vuurwapens by hul gehad het nie. Tydens die skermutseling het een van die Boere hierdie Skot met sy doedelsak per ongeluk doodgeskiet. Veertien ander Britse soldate het ook tydens die skermutseling gesterf en is in die middel van Vissershoek begraafplaas begrawe. Die klippe op die grafte is al groen van ouderdom. Die Skotse doedelsakspeler is op Hornsnek, vlak langs die ou pad begrawe in ‘n vlak graf, vir redes waarvan ek nie bewus is nie. Die Boer wat hierdie Skot per ongeluk noodlottig gewond het, het blykbaar so sleg gevoel hieroor, dat hy elke jaar op hierdie betrokke dag sy pak klere en pluiskuil aangetrek het, sy perd opgesaal het, blomme gaan pluk het en na hierdie Skot se graf gery het en die blomme daarop gesit het. Hy het dit blykbaar tot met sy dood gedoen. My pa het aan my gesê dat hy gehoor het dat dit een van die van Aardes van Wildebeeshoek was, want hulle het met blomme geboer. In die 1970's toe die teerpad oor Hornsnek verbreed is, is die graf oopgegrawe (die Skot se stewels het blykbaar al uitgesteek bo die grond) en is die Skot se oorskot na sy familie in Skotland gestuur. Daar was blykbaar ook ‘n koerantberig hieroor. Ek is in besit van verskeie doppies, kartetse en wat lyk soos pom-pom projektiele wat ons as kinders op die terrein opgetel het, waar die skermutseling onteenseglik plaasgevind het. Ek vermoed dat hierdie insident gedurende die Eerste Vryheidsoorlog (1880 – 1881) plaasgevind het, aangesien die Britte nie meer van doedelsakspelers gedurende die Tweede Vryheidsoorlog (1899 – 1902) gebruik gemaak het nie. (Franz Jooste)
?
contributed by: Johan Steyn
viewed 48 times