SWANEPOEL Pieter Andrieas 1855-1901
Die onderstaande teks is aangehaal uit: Botha, S.J. 1966. Gemeente Klerksdorp: 1866 - 1966. Klerksdorp: Nederduitsch Hervormde Gemeente Klerksdorp, p. 92. "In die jaar 1892 het 'n groepie lidmate van die Hervormde Kerk die kerk verlaat om 'n eie genootskap te stig onder leiding van P.A. Swanepoel. Pieter A. Swanepoel was 'n ouderling van die Hervormde Kerk en het in die omgewing van Baviaanskraal gebly, naby Witpoort in die omgewing van Wolmaranstad. Die eerste en tweede hoofstukke van die boek Handelinge het 'n geweldige indruk op hom gemaak en hy het gemeen dat die uitstorting van die Heilige Gees, soos in Handelinge beskryf, weer moes plaasvind. Daarom het hy tien dae in die veld deurgebring waar hy in ernstige gebed was en veral gebid het om 'n herhaling van die Pinkstergebeure. Tot watter mate hy wel onder die invloed was van die sogenaamde Herlewings, wat sedert die sestiger jare van die vorige eeu in die Nederduits Gereformeerde Kerk in die Kaap en daarna ook elders in die land plaasgevind het, is nie bekend nie, maar sy optrede was egter wel in die rigting. So het hy byvoorbeeld te 1885 te Baviaanskraal in sy huis begin om bidure te hou op elke eerste Woensdag van die maand. Dit was iets wat hy buite die Hervormde Kerk geleer het, want bidure was iets vreemd in die Hervormde Kerk. Toe daar ses jaar later nog niks gebeur het nie, was hy teleurgesteld. Hy het egter voortgegaan met die hou van bidure en het nou ook meer bidure gereel. Op 26 Desember 1896 [sic!] het daar toe volgens diegene wat die biduur bygewoon het wel die wonder plaasgevind dat die Heilige Gees uitgestort is. Hierop het hulle nou elke dag diens gehou. Die Kerk was hiermee nie tevrede nie, Maar nadat die heer Pieter Swanepoel bly volhard het, is hy onder sensuur geplaas. Toe die leerstellinge wat hy verkondig het ook te Klerksdorp inslag gevind het by 'n aantal mense, het hy op 26 Desember 1892 sy genootskap gestig te Elandsheuwel Klerksdorp, bekend as Der Christelijke Vereniging van Zuid-Afrika. Te Swanepoelsnek het hulle later 'n eie kerkgebou gekry." Biografiese inligting van Pieter Andries Swanepoel. Gebore te Klipplaatdrift, Wolmaransstad op 26 Desember 1855 Gedoop in die Nederduitsch Hervormde Kerk, Potchefstroom op 23 Maart 1856 Getroud met Martha Magdalena Johanna VISAGIE Sterf te Klerksdorp op 14 Mei 1901
contributed by: GGSA North West
viewed 25 times