KRETZEN Johan 1809-1897
KRETZEN, JOHANN (1809–1897), wat in Duitsland gebore is, kom in 1838 as timmerman in Kaapstad aan, en hou godsdiensoefeninge oral waar hy kan om die evangelie* te versprei. In 1843 gaan hy na Swellendam waar hy in die buitewyke van die gemeente* arbei. Twee jaar later word hy as godsdiensonderwyser toegelaat, en nog drie jaar later aangestel om onder die inwoners van die Riversdal-distrik te werk totdat ’n leraar* vir die gemeente Ladysmith in 1851 bevestig word.
Kretzen word in 1854 deur JSS Ballot as godsdiensonderwyser op George aangestel, met Knysna en Mosselbaai as arbeidsveld. In Desember 1859 word hy as sending*leraar georden toe die sendinggemeente, wat in 1848 deur die Londense Sendinggenootskap* gestig is, by die NG Kerk* ingeskakel word. Hy werk baie aktief in die Mosselbaaistreek, met die gevolg dat die sendingstasie Gonnakraal later hernoem word na sy geboortedorp Friemersheim. Friemersheim is tans ’n gemeente* van die Verenigende Geref Kerk (VGK).
Ná ’n loopbaan as timmerman, lekeprediker, onderwyser en sendeling, aanvaar hierdie onderwys- en sendingpionier sy emeritaat op 6 Julie 1895.
(bron: https://ecke.co.za/kretzen-johann/)
contributed by: Christopher Fitchet
viewed 25 times